Die versamelgogga floreer!
Nuwe "huisraad" en toebehore hou vir ons geen vreugde in nie. So koop ons elke Saterdagoggend baie vroeg die Weekend Post en merk die interessante items in die ruilkolom (swops). Dan is dit 'n geskarrel om die verkopers te bel (landlyn natuurlik), afsprake te maak en rigtingwysers te kry.
Soms daag mens - met kinders in tou - net te laat op vir die pragtige antieke muurrakkie of tuinimpliment. Maar in baie gevalle kom ons tuis met 'n "trofee" waarvan ons die prys tot in lengte van dae onthou wanneer dit 'n winskoop was. Van ons mislukkings probeer ons gou vergeet.
Daar was ook vir 'n lang tyd 'n ruilkolom op Afrikaanse radio. Ek onthou dat Fonnie du Plooy dit vir 'n lang tyd aangebied het: Iets vir Iets. Daar het ons ook etlike suksesse gehad.

Deesdae gaan dit so op Gumtree, want veral Eon en Emile het die soek of verkoop talent voortgedra...
Huisveilings was 'n ander tydverdryf, asook besoeke aan veilingshuise (Auctions), antiek- en rommelwinkels. Ek onthou die tyd toe ek boeke bymekaargemaak het vir die "nuwe geslag". My kinders moes boeke besit. En baie daarvan, want in my grootwordhuis was daar minder as een rak boeke (maar wel 'n daaglikse koerant, die Landbouweekblad en die Farmers Weekly).
Toe die kartonne Kinderensiklopedie, Children's Britannica, Kennis, Kinders van die Wereld en talle kinderboeke roep om uitgepak te word het Arie 'n stewige rak in die kamer wat uit die eetkamer loop, gemaak. Ek het die kamer ingerig as huiskantoor en die rye boeke het die atmosfeer van "kennis" geaksentueer.
Die kamer langsaan (vandag my boekekamer), was bekend as die kinders se "speelkamer". Chaos het meeste van die tyd daar geheers want daar was soveel klein stukkies Lego en Mecanno wat altyd soek was. Die meeste kinderspeelgoed - opvoedkundig soos Fisher Price en ander - het tweedehands uit ruilkolom-mense se huise gekom.
My porseleinsnuffelry kan maar net nie tot 'n einde kom nie.
Comments
Post a Comment