Nuwe dekade breek aan

1990.   Nou is Emile in St 1 en Eon in sub A.
            Die skool se pre-primere klas het kinders nodig en Kia (met helderpienk broek in die voorste ry) sluit aan hoewel sy nog nie 5 is nie. Therina Pienaar is die onderwyseres.



     Ons hou 'n reuse kermis op die Dagbreek terrein. Die geld word aangewend om die pre-primere fasilitiet op te gradeer. Terselfdertyd promoveer ons die idee om die skool dubbelmedium te maak en sodoende dit te "red".
Een van die aktiwiteite!

Groot fees by Dagbreek

      Dit was 'n groot sukses, maar baie harde werk.   Ek onthou dat Arie en Pine geswoeg het met die logistiek en baie energie ingespan het op die dag van die fees. . Ons het snoek van die Boland bestel en dit in die MTR Kinderhuis (oorkant ons in die voormalige Huberta Steyl huis) se vrieskaste gebere het vir die kermis.   Groot vure is gemaak en Brenda het gehelp met die maak en braai van roosterkoek. Dus was daar snoek met roosterkoek en druiwekonfyt op die spyskaart.
       Ons groot poging het die geldkas 'n hupstoot gegee en die speelgrond mooi gemaak maar daar was geen redding vir die skool se voortbestaan nie.   Die antwoord:   Dagbreek amalgameer met Laerskool Excelsior in Noordeinde.
       Aan die einde van 1990 neem ons afskeid van Dagbreek. Ons lang briefwisseling met die Kaapse Onderwysdepartement om Emile na Grey te neem, kry 'n negatiewe antwoord.
                                                                     --------
            Die Oosterlig is besig met herstrukturering van redaksionele poste en so verloor ek my werk.  Maar ek maak staat op ander vaardighede en gou het ek ongeveer 4 Engelstalige senior leerlinge vir wie ek afsonderlik klas gee.
            Ek maak kos vir partytjies en vir my oud-kollegas by die Oosterlig.  Teen betaling natuurlik.

            Die Maatskappy vir Europese Immigrasie soek in 1990 'n persoon om vir vreemdelinge van hoofsaaklik voormalige Oosbloklande gespreks-Engels te gee en gou het ek 'n aantal mense op my 'boeke". Saam daarmee bied ek aan om as vrywilliger te help om die gesinne en enkelinge te laat tuisvoel in ons stad.
           Ons huis word 'n Babel - maar in die positiewe sin van die woord.  Ons ontmoet die Rasmussens van die Faroe eilande wat met hulle vistreiler in die PE hawe is en 'n konsessie van die regering het.    So word ons almal op 'n informe wyse bewus van 'n groter wereld en die kinders geniet interaksie met die mense, veral die Faroese.
       
 Arie se belangstellling in die viswaters word ook al hoe meer produktief. 
          Hy verdeel sy hardlooptyd met uitgaan op vriend Keith se motorboot.   Ons het in die tyd altyd vars vis.  Soms gevang en soms geskenk deur die Rasmussens.

          Aan die negatiewe kant van die prentjie begin die tyd van stakings in die Munisipaliteit.  Soms is dit so erg wanneer die vullisverwydering stop en die straatveers om hoer lone protesteer dat die personeel van die Munisipaliteit moet inspring. 
         Ek onthou  so goed hoe Arie 'n span saam met 'n groepie bibliotekaresses gevorm het om nagdiens in die Hoofstraat te doen.

         Omdat ek alle wyses van inkomstegenering oorweeg, kry ek die geleentheid om vir die eerste maal 'n boek te redigeer.  Dit is die samevatting van 'n reeks praatjies wat Gerda Coetzee vir die Afrikaanse radiodiens uitgesaai het. 

       Onder die vaandel van die Stigting Simon van der stel, werk ek saam met  'n mediese dokter en houtbewerkings-kenner, dr. Johann du Toit om 'n tweetalige gids vir die bewaring van edelhoute te redigeer en tot druk te bring.



Op staatkundige gebied, draai die geskiedenis van die land 360 grade.   FW de Klerk verklaar in Februarie 1990 dat Nelson Mandela uit die tronk vrygelaat word na 27 jaar.


Comments

Popular posts from this blog

Ons probeer 'n skool red!

Ons vier 'n eerste verjaardag