1985 - jaar van diverse dinge!

Dit was 'n besige jaar!
     Ons Stofpaleis het steeds baie lap-en-stopwerk nodig, maar Arie maak van die geleentheid gebruik om Sherlockstraat 2 te koop sodat ouma Gerty "nie meer vir die Jood" huurgeld hoef te betaal nie, maar 'n maandelikse bydrae kan maak sodat ons die bouvereniginglening kan afbetaal.

Eon en Emile help!


     En was daar nou baie werk... Ouma Gerty se eerste besoek daar toe dit nog so 'n verwaarloosde donker, vuil huisie was, was:  "In hierdie kombuis sal ek nooit 'n koek kan bak nie".
     Maar ons het skouer aan die wiel gesit en mure uitgebreek, gepleister, gemuurpapier en voor die einde van Maart kon sy intrek.  Arie het self die verhuising vanaf Newtonpark hanteer. In 'n gehuurde vragmotor met byna geen hulp nie.

     Dit is van die verste onthou vir Emile wat toe ongeveer 3.5 jaar oud was... daardie lorrie in Kaapweg en iets kleins wat afval en breek ...   (ek dink dit was my elektriese koffiemeule)
    So tussen werk by die PE Express, privaatklasse en ons huis regmaak vir die klein dogtertjie wat op pad was, het ek ouma se huis ook van bo tot onder geplak. Ek moes dit doen want daardie mure was in 'n toestand van verval en dit sou "tydelik" wees!   (Dit het toe byna 30 jaar gehou!)
    Ek sal dit as my pienk periode onthou.   Dit was 'n drifte ligroos tyd!  Ons eie gastekamer het  ook fyn pienk blommetjies op die mure gekry, pienk bedlinne en duvets en die buitekant van die huis is ook twee tinte pienk geverf.
     Gelukkig was daar tussen al die huisbedrywighede af en toe tyd om 'n vuurtjie te maak en vleis te braai. Hier is een so braai-foto


                                                                        Moddermaats!
 
    Vir Arie is die opvoeding van ons kleinmense baie belangrik. Een van sy doelstellinge was om hulle so gou moontlik te leer lees.  Hy gesels met skoolsielkundigies wat hom afraai om Emile op 3.5 jaar al aan die alfabet bloot te stel.  Maar Arie steur hom nie daaraan nie en maak flitskaarte dat dit klap.

                           Februarie 1985. Op die ysterbed in my slaapkamer met die PIENK mure.
                                           Eon is amper2 en ek maak reg vir Kia se aankoms.
                                                                   ------------------------


       Terwyl ons in ons klein wereld leef, is daar op politieke gebied baie woelinge en kwellinge.  Daar is toenemende onrus in die land en in Junie roep pres. PW Botha 'n noodtoestand  in 36 distrikte in die land uit.
    Die vraag "is daar 'n toekoms vir ons kinders in die land?" kan nie die vlaag van voortplanting stuit nie...wel nie in ons land nie, want ons dogtertjie is pas in April 85 gebore en ons oudste kind Emile moet leer sosialiseer en ons stuur hom na 'n speelskool in Campbellstraat.  By Pinocchio gaan dit nie goed nie en die mannetjie skree en veg asof hy dit vir 'n kompetisie doen.
   Daar kom uitkoms en wel deur die ACVV se Lily Groenewald wat 2x per week 'n speeloggend in die ou Veremarksaal aanbied.
   So ontmoet ons vir Esta en Barnie Swart van Raleighstraat. Hulle Marina is so oud soos Emile en maak gou maats.   Boonop geniet die twee die speelgroep en word voorwaar Besige Bye.
    In die groter wereld daarbuite ontmoet 'n groep SA sakemanne bannelingleiers van die ANC onder leiding van Oliver Tambo in Lusaka, Zambie.






Eon se tweede verjaardag



Comments

Popular posts from this blog

Ons probeer 'n skool red!

Nuwe dekade breek aan

Ons vier 'n eerste verjaardag