Arie begin met sy ernstige Marathon "loopbaan"

Fiksheid was Arie se wagwoord, deels omdat daar 'n hartdefek * in die Wegner-familie is en deels omdat hy daarvan gehou het om te draf / hardloop / jog ...
    Gelukkig was Arie 'n "oggendmens" en was soms al teen dagbreek aan die oefen.   Hy het aan die Port Elizabeth Atletiekklub behoort en ook een of twee maal per week middagete by die Oval gaan oefen.  Ek glo Eon sal meer van Arie se hardlooplewe kan onthou want hy het tydens sy Newton Tech-dae ook saam  gaan hardloop en een jaar 'n trofee vir belowende juniorlid gekry.

      Daar was heelwat Saterdagoggend-wedlope hier in Port Elizabeth en sover ek kan onthou tot by Port Alfred.

       Ek dink sy eerste Comrades was toe Emile in sub A was (1988). Die juffrou  (Joan Morkel) en haar man het die aand by ons geeet voordat Arie op die bus sou klim Durban toe. Ek onthou dit omdat ons geskarrel het om sy buskaartjie tussen die bagasie te vind..

      Nog 'n helder herinnering is die keer toe ons almal in die Cressida Kaaptoe is vir die Twee Oseane.   Dit was of 'n jaar voor of na die eerste Comrades.    Eon het 'n dag voor die tyd erge pyn beleef en die spesialiste het dit goed gedink om hom 'n "lumber puncture" te gee om vas te stel wat makeer.  Dank Vader dit was nie breinvliesontsteking nie.
      Hy het toe die meeste van die tyd in die motor gele terwyl ons op pad was.  Dit het nogal meet en pas gekos vir die res van ons in die motor. Maar almal was gelukkig want wanneer Arie so 'n reis aangedurf het mog elk sy kwota koeldrank en lekkers kies.

*    Die hartspesialis het Arie behandel vir 'n "aritmiese hart". Daarvoor het hy chemisiese medikasie gekry maar Arie het geglo in Boererate en so moes ons 'n aftreksel van Wildedagga maak.   Die plant is nie dieselfde as die alombekende dagga nie.   Eers het Arie dit by 'n vriend gaan oes en 'n plant persent gekry.  Dis in die voortuin geplant en het vinnig opgeskiet. Ek onthou nog die vrolike oranje blomritse.
      Die geoeste blare is in water gekook en die hele kombuis het daarna geruik. Die heksebrousel is dan deur 'n sif gegooi en die vloeistof met ongeveer 5 Lenon se medisynesoorte gemeng.  Ek kan onthou dat dit onder andere rooi laventel, staaldruppels en witdulsies was.
     Dit is dan in 750ml bottels gegooi en saam op die melkrak van die yskas gesit.  Miskien sal Emile onthou dat hy dit vir koeldrank aangesien het maar na een sluk uit die bottel besef het dis 'n vloeistof om mee rekening te hou.
Wildedagga in ons voortuin

Comments

Popular posts from this blog

Ons probeer 'n skool red!

Nuwe dekade breek aan

Ons vier 'n eerste verjaardag