Erf 2218, Sentraal

In Augustus 1981 kry ons 'n baba, Rinus Emile, en koop 'n huis aan die 'verkeerde kant van Sentraal'.
Erf 2218.
 

Hoewel die tuin uiters verbeeldingloos voorkom, trek ons in met groot drome ...

       Ons het 'n hegte band met Arie se oom Rinus (Marinus Wegner) in Nederland en dink nie twee maal om Emile na hom te vernoem nie. Opa Karel, die amptelike/genetiese grootvader, is al vele kere vernoem, so niemand kik of mik hieroor nie.

Oma Carolien het voor die verhuising kom kuier

Ouma Gerty het haar bes gedoen om die gesin te help met nuwe baba en nuwe vesting

    Ouma Gerty was bekommerd.  R44 000 is darem baie geld vir 'n huis in 'ou buurt'. Dan lek die sentrale geut tussen die twee nokke ook nog erg, daar is 'n gat in die houtvloer in die badkamer en die agtertuin is 'n woesterny.
   Arie was ook katvoet, want dis die "verkeerde kant" van Sentraal, maar hy is in vervoering oor die twee kaggels en die ruimte! Ons kry 'n lening by die Perm vir 75% van die koopprys en teken ons vas vir 20 jaar!
   Eers kry ons huurders vir 5 maande aangesien ons 'n kontrak met die Universiteit het vir huur van 'n duplex in Cuylerstraat (Arie het die voordeel gekry omdat hy ingeskryf was vir B Hons Sielkunde) tot einde Desember.    
   Teen die middel van Desember 1981 verdwyn ons huurders een nag in dun mis. Die volvloermatte is uitgeruk en die gang en die spaarkamer lyk erg. Daar is oliekolle op die vloere en deure. Ons lei af hulle het motorfietse reggemaak in die huis!
   So begin die tweepersoonspan se 'renovasie' poging in die aande en oor naweke.  Die baba slaap in sy drakassie onder die invloed van 'n druppel of twee groenmamba.
   Net voor die einde van dieselfde jaar kom Gawie en Liesje Rousseau en die vier nefies in PE kuier. Hulle bly in Tinie Malan se woonstel en sit hand by met die trek, baba oppas en verf.
Klein-klein op die renovasieperseel

     Ek onthou nog so goed hoe Francois (toe so 11) my gehelp het om die sitkamer te verf (die kleur Wheat van Plascon wat nou nog op die mure is). Arie en Gawie het die kombuis leefbaar gemaak. My ma maak kantgordyne van tafeldoeke vir die eetkamervensters  (hulle hang steeds) en help waar sy kan..
    Rondom Nuwejaar van '82 kom jarelange vriendin Miriam Terblanche en haar vriendin oorslaap. Hulle het kampeertoerusting. Dit reen en daar is 'n hol ding onder elke lek,  Meubels en dose staan oral rond.  Die plek lyk soos 'n deurmekaar pakstoor. Ons het net een dubbelbed en 'n yster-kinderbed, maar die gaste is dolgelukkig onder 'n tafel in die gang.

    Saam met die Africana-bibliotekaresse van die Munisipaliteit het ek in 1983 
    gesoek na die name van vorige eienaars.

    Dit is wat die PE YEARBOOK AND DIRECTORY opgelewer het:

                                 1907  -  A Waldeck, Villa Armgard
                                 1909 -   J L Wilson,  verander naam na Bon Repos *
                                 1928 -   Dr en mev L S Zinober
                                 1946 -   A H le  Roux
                                 1956-   mev. A Rautenbach
                                 1960-   G F Rautenbach
                                 1964-   M Brown
                                 1965-    A J Spamer
                                 1970-   Central Creche
                                 1974-    mev. D A Lane
                                 1976-    mnr. Bishoff
                                 1981-     A G Wegner
                                     
* Bon Repos wat Lekker Rus beteken, word terugverander na Villa Armgard want rus gebeur min in     die eerste jare van  ons "besetting".

  In die 21ste eeu begin ons verwys na Die Stofpaleis want afstof en opsuig bly 'n Herkuleense taak.


IN 2001 kry ek besoek van dr. Vivienne Joffe, dogter van Louis Zinober. Sy wil so graag die huis sien. Later stuur sy vir my hierdie kosbare fotos (Uit Bristol waar sy as pediater gepraktiseer het)


Laaste foto van dr, Louis Zinober se moeder. Sy is in 1933 dood aan kanker.

Dr Louis Zinober
Zinober gesin  circa 1927

Comments

Popular posts from this blog

Ons probeer 'n skool red!

Nuwe dekade breek aan

Ons vier 'n eerste verjaardag